Morningside...the old man died

May 17, 2018

In die klein, intieme Bo-Karoo-gemeente sien ek die Sondagoggend ‘n vaagbekende gesig. Hier ken almal vir almal, vir geslagte reeds.

Maar hierdie gesig, agter in die kerk, is bekendvreemd. Ná die diens gaan groet ek die man, en dit tref my tussen die oë: wiskunde-onderwyser, en kadetorkesafrigter by die Hoëskool. Hy tuur heeltyd half skuinsweg oor my skouer, of kyk na die grond, terwyl ek met hom praat. Hy is skaam toe ek hom direk vra of dit wel hy, mnr So-en-so, my oud onderwyser is. Hy skud sy kop bevestigend, sonder om iets te sê. Ná kerk maak ek werk om uit te vind wat aangaan. En ek hoor dat een van die lidmate op pad van Kimberley af hierdie man sien loop het langs die pad met ‘n plastieksak vol klere en persoonlike goedjies in die een hand, en ‘n hondjie in die ander arm. Hy het toe uiteindelik vir hom ‘n slaapplek uitgeskrop in die stoor van die lidmaat wat hom opgelaai het.

Dit kon ek nie toelaat nie. ‘n Ander lidmaat het ‘n ou nagmaalshuis op die dorp wat leeg staan, maar mooi onderhou is. Hy gee toestemming dat die huis gebruik mag word, kosteloos. En ek bel en bedel en leen en steel byna, maar kry alles bymekaar om die huis in te rig: bed, bedkas, hangkas, stoof, breekgoed, beddegoed, selfs van my storieboeke. ‘n Radio. ‘n Ou swart-en-wit televisie. Reël vir hom staatspensioen. ‘n Ou selfoon. Weet jy watter geweldige identiteit gee ‘n eie selnommer aan ‘n bestaanlose, identiteitlose eensame wese? En so word oom Onnie ‘n inwoner van die dorp.  Ek het selfs vir hom ‘n ou Morris Minor by ‘n kollega in Kimberley persent gekry wat ons met groot gevaar en dreigende lewensverlies gesleep het na ons dorpie toe.

Stuk-stuk trek ek die storie uit hom uit terwyl ons koffie drink op sy stoep. (Hy altyd, oral, selfs in die plaaswinkel, verberg agter ‘n reuse sonbril) Ná ‘n besonderse traumatiese insident is hy vir ‘n onbepaalde tydperk verwys na die Weskoppies-psigiatriese hospitaal in Pretoria. Hier het hy sy vaardighede gebruik om ‘n houtwerkbesigheidjie te begin. Briljante skrynwerker, hoogs kreatief, brilljante digter en woordkunstenaar ook. Maar onder dit was daar ‘n troebel gefolterde gees. En die hospitaal het sy menswees totaal afgebreek. En hy het, vindingryk en soms slu soos wat hy was, eendag daar weggeloop. ‘n Drie jaar-lange reis as padloper het begin, en hy wou net Karoo toe. Daar het hy ‘n fenomenale kennis opgedoen van die karooplante, die sterre, die heelal. En dit in die mooiste gedigte verwoord. (Die handgeskrewe bundel lê terloops steeds in my lessenaarlaai. Ek het die enigste kopie daarvan). Ek ry Pretoria toe, gaan sien die superintendent by die hospitaal, kry al die prosedures in plek: Hy word voorwaardelik ontslaan onder my voogdyskap as predikant.

Ek het aangegaan met my bedel, leen en ampersteel-veldtog, en vir hom begin houtwerkmasjinerie bymekaarmaak. Die mooiste meubels het gevolg: Jonkmanskaste, tafels, stoele, speseryrakke. En op ‘n dag: houttrekkertjies en pophuise, ‘n houtskopgraaf vir ‘n seuntjie en houtwiegie vir ‘n dogtertjie se pop. En elkeen van die meubelstukke het ‘n plakkertjie gekry: Hierdie is J s’n. (Sy seun) Hierdie is E s’n (sy dogter, wat saam met my matriek was). Hy het hulle nooit weer gesien nadat hy opgeneem is in Weskoppies nie. Nog nooit sy kleinkinders gesien nie. Ek het besluit om hulle te soek en te bel. Julle pa is hier op ons dorpie, het ek hulle gesê. Maar hulle wou niks weet nie. Ons gee nie om nie, stel nie belang nie.

Later het Seun se gewete bietjie gepla, en hy het sy pa gebel. Oor twee weke kom ek daar verby vir besigheid, het hy belowe. Dan kom slaap ek oor. Daardie hele week het oom Onnie gewoel en gewerskaf. Speelgoed gemaak, die huis silwerskoon gewas, die skilfers wat afdop is afgewit (Tot my frustrasie, want ek het sy persoonlike aankoper en verskaffer geword). En ek moes bedel onder die boere vir vleis: ‘n skaapboud, pocket-aartappels, groente. En dalk so lekseltjie wyn. Maar Seun is skatryk, en al oom Onnie se armoedewanhoop was gefokus op Seun se beloftes om ‘n koevertjie vol kontant saam te bring.

Die Vrydag wat Seun sou arriveer het oom Onnie vroeg al reeds met ‘n baadjie en das (wat ek by die Hospice-winkel vir hom aangeskaf het), op die stoep gewag. Een koppie koffie na die ander. Die bitter lyne om sy mond en die naakte seer in sy oë toe hy daardie aand in die huis ingaan, met geen teken van boet nie, sal ek nooit vergeet nie. Boet het wel so maand daarna gebel om te sê hy het ongelukkig nie sy draaie gekry nie. Dalk ‘n ander keer. Sus wou niks weet nie, wou nie eers haar pa se nommer hê nie. Maar steeds het hy voortgegaan om meubels te maak, en plakkers op te sit.

Toe kry hy ‘n hartaanval, en lê in die staatshospitaal in Kimberley. ‘n Hopie verwese, vervalle beendere wat eensaam sterf. Ek kon nie daar wees nie. Tydens sy begrafnis was daar ‘n handjievol mense. Nie Boet of Sus of hulle eggenotes en kinders was daar nie. Net ‘n huis vol opgegaarde besittings: meubels en speelgoed wat hy gemaak het, aanmekaargeflansde stoele en beddens en breekgoed, persoonlike goed soos sy pyp. Dit, saam met sy digbundel, was my erfporsie.

Ek bel die kinders, en sê dat hulle pa die mooiste meubels vir hulle gemaak het, en hulle dit moet kom haal. Nee wat, ons wil dit nie hê nie. Ook nie die kinders se speelgoed nie. Watter seuntjies speel in elke geval vandag nog met hout-speelgoed? Gee dit maar vir iemand, deel dit onder die plaaswerkers uit, was hulle opdrag.

Ek het die foon neergesit. Morningside, the old man died. Neil Diamond het in my kop gedreun.

 Foto: Unsplash

 

Share on Facebook
Share on Twitter
Please reload

Featured Posts

Frikkadel Bolognaise

August 2, 2019

1/1
Please reload

Recent Posts

August 24, 2019

August 2, 2019

August 2, 2019

July 20, 2019

July 20, 2019

Please reload

Archive