Kuier saam met Ria Fourie

April 6, 2019

 

 

Jy is ‘n dinamiese vrou maar ook omroeper van formaat, vertel ons asseblief wie is Ria Fourie wanneer jy rustig by die huis is?

 

O genade, sommer met die intrapslag wonder ek van wie jy nou praat! Dinamies? Nee, hoor. Sommer net gewoon. Alle grappies op ‘n stokkie. Ek is getroud met Gert.
 

 

 

 

Ek het Desember 60 geword. Ek is Ma van vele. Twee bloed bloedjies (Vivian en Bianca) en dan al my ander hartskinders met hulle gades. En teen die einde van hierdie jaar sal daar TIEN kleinkinders in my familie wees. Ek het offisieel Kerfees bedank as Ouma. Geen mens kan Kersfees hou met tien kleinkinders nie! Vir die res van die jaar is ek Ouma Ria, maar Desembers is ek MIA.

 

 

 

 

 

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek lees. Moordstories. Ek is dol oor die forensiese aspek van moordsake.

 

Waar kom jy oorspronklik vandaan?

Ek is ‘n Oos Rander in murg en been. Ek is in Kempton Park gebore. Eintlik op Plot 116, Bredell. (Dit maak my seker ‘n maplotter?) Ons het maar heen en weer getrek na verskeie dorpe aan die Oos Rand. Maar ek het die grootste deel van my kinderjare in Brakpan gebly. Ek was in Laerskool Kommando en later in Morewag. My Hoërskool loopbaan was in Stoffberg Meisies. Ek het in Johannesburg begin werk in die destydse Poskantoor. In daardie jaar het die Poskantoor hulle eerste opleidingskursus aangebied vir toonbank klerke.EK is toe na Marshalltown poskantoor toe gepos. EK het later na die destydse SASBANK toe geskuif. In 1979 het ek Pretoria toe verhuis en het vir baie lank by die destydse Volkskas gewerk. Ek het vir ‘n paar jaar in Ladysmith Natal gaan bly maar ek is maar die grootste deel van my lewe in Pretoria.

 

In jou privaat hoedanigheid is jy nogal besig, wat hou jou so besig?

Ek werk voltyds in ‘n oudiologie praktyk. As mens in ag neem dat dit die grootste deel van jou dag se ure in beslag neem, dan is daar maar min tyd oor om ander goed te doen. Ek doen maar alles self, my na-ure tye gaan soms te vinnig verby. Veral as daar een of ander viering oor ‘n naweek plaasvind.

 

Hoe belangrik is jou familie vir jou en waste stokperdjies deel julle?

Ek het ‘n groot gesin maar my familie is klein. Net een sussie. Hulle is almal baie belangrik vir my en ek is baie lief vir hulle almal. Nie dat ek noodwendig altyd van hulle hou nie, maar dit gebeur in die beste van families, nê! Ek bekommer altyd oor hulle welstand. Ek huil baie oor die dinge wat hulle aanvang. Ek broei graag oor hulle dinge, maar ek sal selde met hulle baklei. Ek dink ek is belangrik vir hulle ook. Altans, mens hoop so! Ek dink die enigste stokperdjie wat ek met my familie deel, is lees. Ons ruil heeldag boeke uit.

 

Baie min mense weet dat jy en Bea susters is. Van die oomblik wat ek jou en Bea ontmoet het, het jul verhouding werklik vir my uitgestaan. Was dit altyd so en wat hou julle so na aan mekaar?

Ons was maar haatlik met mekaar toe ons klein was. Ek het baie pak slae gekry as gevolg van haar, maar “all is forgiven!” Ek dink ons verhouding is so goed omdat ons net mekaar het. En omdat ons so verskil. Sy is die doener en prater. Ek is maar die stil een wat graag eerder waarneem. Ons praat oor alles. Ons waardes is dieselfde. Ons kuier eintlik min omdat tyd so ‘n groot faktor geword het, maar as ons bymekaar kuier kan die gesprekke lang draaie loop.She speaks her mind…somtyds neem mense dit verkeerd op. Maar ons albei wil graag deursigtig wees vir ons naaste. Dis nogal vir ons belangrik. Ek dink ook ons maak mekaar se rue toe. Op ‘n stadium was ons onnatuurlik telepaties met mekaar in kontak, wat eintlik freaky was. Dit het alles te doen gehad met ons Pa wat deurmekaar was met goed wat nadelig was vir ons. Maar sy is nou al so lank in my lewe….ek moet haar seker maar duld? (Haha) Grappies op n stokkie….sy is ‘n sussie om op trots te wees. Wat ek die meeste van haar admireer is haar positiewe ingesteldheid. Ek daarenteen is die donker ene…So ons komplimenteer mekaar.

 

 

 

Wat is jou gunsteling wegkruipplek of vakansieplek?

Ek is baie lief vir die see. Die onstuimigheid van die see doen my goed. Daar vergeet ek van alles. Maar ek het in Desember ‘n plek ontdek wat my liefde vir die see bietjie op die agtergrond geskuif het. My Pa was ‘n Klein Karoo kind. Ek kon nooit sy liefde vir die Karoo verstaan nie. Tot ek in Desember per geluk ‘n klein plekkie ‘n paar kilometers van Kimberley, ontdek het. Ek kon skieik alles verstaan. Hoe die groot niks van bossies en die skoon lug en die absolute vrede jou hele menswees bekruip. Toe ons oppad is soontoe, het ek gewonder wat de ongeluk met my verkeerd was om nou juis na daardie plekkie toe te gaan. Ek is soontoe met baie vrae en ontstuimigheid. Plooysburg se lug het alle goggas en onvrede binne ‘n paar dae uit my sisteem gewerk. As ek soontoe kan trek, sal ek my meubels met ‘n kruiwa soontoe stoot.

 

Noem vir ons al jou gunstelinge op:

  1. Skrif / Moto – My gunsteling skrif is Psalm 139 vers 16…..alles omtrent my is al laaaankal bepaal. Dit gee my vrede dat God my in Sy hand het.

My motto waarby ek lewe is eenvoudig: Moenie oordeel nie. ‘n Saak het altyd drie kante. Ek oordeel nie. Ek probeer eers al die kante insien, en sal dan ‘n oordeel vel as dit moet. Ek is baie bang vir oordeel. Party mense oordeel so vinnig en vergeet dan net so vinnig ook daarvan. Dis ‘n wet wat neergepen is…jy wat oordeel sal volgens jou werke geoordeel word. Eish…daai ding maak my bang

  1. Boek – Ek het eers onlangs The Elephant Whisperer ontdek. Olifante fassineer my. Daardie boek is op die stadium eerste op my lys van gunstelinge.

  2. Lied – Sjoe! Dis ‘n vrek moeilike een om te antwoord omdat ek baie lief is vir musiek. Ek kan nie net een uitsonder nie. Dalk as ek vir jou ‘n lysie gee van die liedjies wat eendag op my begrafnis gespeel moet word, sal jy verstaan.

  • Arise my love - Newsong

  • I am I said - Neill Diamond

  • The Story - Brandi Carlisle (dit was ook my pienk strikkie siekte survivor lied)

  • This is not goodbye – Johhny Reid (hy is tans my gunsteling sanger)

    1. Gereg – Enige iets met gesmelte kaas

    2. Drinkgoed – Huidig? Pienk gin en tonic of heerlike droë sjampanje!

    3. Is jy ‘n soet of souttand – So iets van altwee, ek is goed gebalanseerd.

    4. En, na gelang van jou keuse hierbo, waste eetgoed? Suurlemoen meringue. Party pizza plekke maak ‘ “Three Cheese” pizza…njmammies!

    5. Hou jy van kook en bak? Ek het baie daarvan gehou. Toe breek daar ‘n tyd aan wat ek met kosmaak my gesin aan die lewe moes hou. Nou is ek op die drie bestandele / drie minute kosmaak sessies. Ons eet darem nog nie elke ete net toebroodjies nie! So nou en dan pak die gier my beet, dan sal ek iets bak. Ek het die afgelope naweek ‘n suurlemoenkoek gebak…was nogal lekker!

 

Vertel ons in ‘n paar woorde hoe dit gekom het dat jy die Here ontmoet het.

Ek het in ‘n Pinkster huis groot geword. Ons was met vrees vervul om enige iets te doen wat sou veroorsaak het dat die Here ons met Sy sambok sal bykom. Ek het dus eintlik as ‘n Miss goody-two-shoes groot geword. Ek was al in my dertigs toe ek vir die eerste keer bewus daarvan geword het dat die Here eintlik die teenoorgestelde is van wat ek geglo het vir so lank. Ek het toe ontdek van verhouding met Hom. Ek het in 1998 eerstehands beleef wat ‘n verhouding met Hom werklik beteken.

 

Om omroeper te wees vat baie toewyding, wat het jou besluit om een te word?

Ek het nie besluit nie!!! Bea het my in dit ingeboender!!

 

Is jy van nature gedissiplineerd?

Ek het skynbaar ‘n groen persoonlikheid. Gedissiplineerdheid is nie baie hoog op my prioriteitslys nie. Ek is dol oor uitstel!! Die more is nog ‘n dag ding. Tot groot frustrasie van al die Rooi en Blou persoonlikhede in my kring. Ek sit myself vreeslik onder stress. Maar ek is nou al 60 jaar so. Die kans dat ek gaan verander is maar skraal!

 

Hoe het jy beland by EGR?

Ek het ongeveer twintig jaar terug vreeslik baie gedigte geskryf en het in 2017 vir almal die gedigte wat ek oor hulle geskryf het, gestuur. Op daardie stadium was sy by ‘n ander internet radiostasie betrokke en hulle omroeper wat gedigte aangebied het, het bedank. Ek was nie emosioneel op ‘n baie goeie plek nie en Sussie het dit voorgestel. Ek is nou al twee jaar besig met een program!

 

Wat staan vir jou uit as omroeper en deel ‘n staaltjie vanuit jou ondervinding?

Internet radio is nie vir sissies nie, want daar kan soveel dinge verkeerd loop. Ek is ook nie opgelei in uitsaaiwese nie, so dis maar soms moeilik om alles vlot te laat verloop. Ek dink wat vir my uitstaan in die aanbied is daardie onverwagse besef dat iets nou verkeerd geloop het. Net verlede week het ek my voorafopgeneemde program aangestuur sodat dit uitgesaai kan word. Ek vertrou mos die instaan bestuurder (haha. Ek luister toe in en hoor met die intrap dat sy die verkeerde program gelaai het. Gelukkig het ek nou al geleer wat om te doen en kon ek vinnig die regte program intrek. Die eerste keer toe dit met my gebeur het, het ek so groot geskrik, ek het sommer die radio afgesit en in my kamer gaan huil…..

 

Jy is baie betrokke by skrywers en digters en het selfs ‘n program geskep om hulle werke voor te lees, wat dryf jou om hulle te help?

Dit het per toeval gebeur. Toe ek die program begin het, het ek vinnig besef dat ek nie genoeg materiaal het nie. So het ek betrokke geraak by SA Digters/skrywers op Facebook. Tans gebruik ek meestal die werk van die Padlangs en PENdit groepe. Wat die program so lekker maak, is dat daar elke week temas is. Die gedigte word dus weekliks per tema geskryf. En die digters se energie om week vir week gedigte te skryf volgens temas, veroorsaak dat ek aanhou. Dis nie almal wat bly deelneem nie, net ‘n handjievol maar dit spoor my net aan om hulle meer blootstelling te gee want hulle verdien dit. Ek het al ‘n hele paar goeie vriende gemaak as gevolg van dit. Ek is maar net hulle stem…hulle doen al die werk. Soms wil ek ophou dan kom daar weer net ‘n gedig deur wat my van vooraf aanspoor. Dis nogal ‘n lekker gevoel as ‘n skrywer/digter vir mens dankie sê omdat hulle hul eie werk uit die mond van iemand anders kon hoor.

 

Het jy al self jou hand aan die pen geslaan, en wat sou jy graag wou doen of Publiseer?

Ek het in 2018 ‘n kortverhaal bundel Drome is Groen gepubliseer. Dit was ook na aanleiding van uitdagings wat geplaas was op die SA Skrywer blad. Ek het nooit eers gedink aan skryf nie. Ek het op skool 8 uit 20 vir opstelle gekry!! Ek het al twee romans geskryf, maar die proeflees fooie is so duur dat ek nie dink daardie boeke sal ooit gepubliseer word nie. Die eerste een handel oor ‘n tweede kans met ‘n kinkel wat mensehandel insluit. Die tweede boek is oor ‘n predikantsvrou wat fisies deur die geliefde predikant mishandel word. Dalk sal hulle eendag op die rakke verskyn. Ek speel met nog ‘n storie. Een wat afspeel op so klein plekkie soos Plooysburg. Ek het klaar die storielyn, wil nog net meer van die plek se geskiedenis uitvind. Wie weet wat wag?Ek doen tans ook ‘n slypskool. Die skrywery was vir my net so groot verrassing as wat dit vir my familie is.

 

 

 

 

Baie dankie vir jou bydrae, Ria. Ek het nou so lekker gelees en lag. Dankie vir jou openlikheid. Ons sal plan met maak met daai twee boeke. Daar is altyd maniere om om dit te kom. Vra my ek weet van planne maak vir daardie redigeringsfooie. Ek staan by my punt, ‘n vrou van formaat inderdaad.

 

Share on Facebook
Share on Twitter
Please reload

Featured Posts

Frikkadel Bolognaise

August 2, 2019

1/1
Please reload

Recent Posts

August 24, 2019

August 2, 2019

August 2, 2019

July 20, 2019

July 20, 2019

Please reload

Archive